Sunday, September 20, 2009

`n Large Opsie Twee Asseblief



Toe ek elf was, was daar so `n program op TV genaamd Arli$$. Daar was twee tipes bekoring aan Arli$$. Eerstens was dit een van die min elfuur programme waar daar gereeld `n paar borste te siene was. Tweedens was dit een van die eerste agter-die-skerms programme, soos Entourage, wat jou die werk en die mense agter al die geld van `n gewilde bedryf gewys het. Arliss was `n agent in die sportbedryf en hy het heel duidelik op daai deel van sy kop geval wat sy morele kompas gehuisves het. As jy perdsteroids by die veearts wou hê en te skaam was om te vra of fotos van jou by `n Mexican donkey show uit die koerant wou hou dan kon jy jou sterre dank dat Arliss jou agent is.

Ten spyte van al sy tekortkominge het Arliss egter iets gesê wat my altyd sal bybly. Hy het gestel dat as jy twee probleme het dan is dit gewoonlik so dat die een die ander se oplossing is. Wat jy moet doen as jy `n onewe getal probleme het weet ek nie, want ses probleme is nou ewe skielik beter as vyf, maar ek dink Arliss se raad is nog steeds geldig en nie net vir probleme nie, maar gedagtes ook.

Daar is nou al die afgelope paar jaar twee gedagtes wat beurtelings aan my karring en dit mag wees dat die een die ander se antwoord is. Die een gaan oor gerigte dat gewone voorwerpe siele kan huisves en die ander handel oor `n baie slim perd genaamd Hans. Die gebruik van die woord siel mag dalk die verkeerde reaksies uitlok so laat ek my aan die hand van `n storie of twee verduidelik voor ek ala Oubaas heilige koeie uit die sloot grawe.

Jy onthou of weet seker van James Dean? Hy is die oorspronklike Rebel Without a Cause, die ikoniese filmster van die vyftigerjare. Dit is om en by verpligtend om `n foto van hom met die lang jas en die sigaret wat uit sy mond uithang op jou muur te hang in jou eerste woonstel en Alan-Grey het `n baie aangename advertensie oor hom gemaak. Glad nie sleg vir `n vier en twintig jarige met slegs een gesigsuitdrukking nie. James Dean se prestasies ter syde gestel, ek wil meer oor die kar praat met wie se hulp hy die tydelike vir die ewige verruil het en veral oor gerigte dat die Porsche 550 Spyder genaamd Little Bastard `n werklike bastard was in sy eie reg.

Little Bastard was glo uit die staanspoor uit `n bietjie van `n kalant. Selfs die Spyder se voorkoms was glo volgens `n kennis van Dean beskryf as sinister en hy het die volgende profetiese woorde gespreek: "If you get in that car, you will be found dead in it by this time next week." `n Week later het Dean verongeluk oppad na `n resies toe. Alhoewel dit die einde van Dean en die begin van `n legende was sou Little Bastard ook seker maak dat vergeteldheid nie deel sou vorm van sy lot nie. Die wrak sou later van `n sleepwa afgly en `n motorwerktuigkundige se been breek. Een van die twee dokters wat parte gestroop het van die kar is oorlede in `n ongeluk terwyl die ander erg beseer is. Twee boewe is ook ernstig beseer terwyl hulle die kar se oorblywende parte wou steel. Nadat die kar se bande gelyktydig opgeblaas het en nog `n ongeluk veroorsaak het, het die eienaar, ene George Barris, die wrak oorhandig aan die Californian Highway Patrol vir `n veiligheidstentoostelling. Die tenstoonstelling het egter min aandag gelok tot en met die pakhuis wat die wrak geberg het aan die brand geslaan het. Little Bastard het egter ongedeerd uit die vuur ontsnap. By `n ander tentoonstelling by `n skool het die kar geval op `n student en sy heup gebreek. Tydens die vervoer van die wrak het `n trokbestuurder ook kontrole verloor oor die trok en die bestuurder is dood nadat Little Bastard bo op hom geval het. Wat oor was van die Porsche is terugbesorg aan Barris en die wrak het toe onder vreemde omstandighede verdwyn. Of al hierdie gegewens waar is sal ek nie weet nie, maar as selfs die helfte waar is dan kan daar nog steeds gestel word dat Little Bastard `n baie gepaste naam was vir die vermetele kar.

Die lede van die Hawaii Volcanoes National Park is ook goed gatvol vir die oneindige invloei van pakkies wat slegs klippe, sand en seeskulpe bevat. Die pakkies gaan gewoonlik met met `n nota gepaard wat stel dat die sender oneindig jammer is oor dat hulle die skulpe gevat het as aandenking en dat die mense van die parkeraad asseblief die inhoud moet terugbesorg na die eiland aangesien slegte geluk die besoekers oorval het. Die legende is dat die godin van die vulkaan, genaamd Pele, die klippe, sand en skulpe sien as haar kinders en dus sorg dat dit naby haar op die eiland bly. Pele se wraak sluit siektes, huise wat afbrand en werksverlies in. Timothy Murray is een so `n slagoffer wat na `n besoek aan die park sy troeteldier aan die dood afgestaan het en sy verloofde verloor het. Die FBI het om ook gevang vir kopiereg inbraak. Dit alles vir slegs `n bottel vol van die swart vulkaniese sand.

Die lot van Dean en Murray is albei gekoppel aan voorwerpe wat op die oog af heel onskuldig lyk, maar uiteindelik lei tot hulle ondergang. Alle voorwerpe is egter nie so sinistêr nie. Daar bestaan baie gevalle van vissermanne se vrouens wat hul mans se verlore trouringe vind in die maag van visse wat hulle gevang het in die einste viswaters waar hulle dit jare gelede verloor het. Hierdie drie staaltjies mag of mag dalk nie as bewyse dien van die siel wat dalk bestaan in voorwerpe nie, maar die snaakse manier hoe dit ontwyk van dit wat as normaal beskou word maak die bestaan van `n siel binne alledaagse voorwerpe die mees voor die hand liggende verduideliking.


Die ander gedagte wat elke dan en wan by my spook is die van die perd genaamd Hans oftewel Clever Hans. Hans en sy eienaar, `n Duitser genaamd Wilhelm von Osten, het tydens die begin van die vorige eeu opskudding gemaak en selfs op The New York Times se voorblad gepronk. Von Osten het geglo dat diere kon wiskunde doen en na onsuksesvolle pogings met `n kat en `n beer is daar gevind dat Hans by verre die grootste potensiaal getoon het. Deur die antwoorde van basiese wiskundige vra met die stamp van sy hoef aan te dui het Hans soveel aandag ontlok dat daar selfs `n Hans Commission gestig is. Na `n stel toetse het die onpaar groep wat twee skoolonderwysers, `n sirkusbestuurder, twee dierkundiges, `n sielkundige en `n perde - afrigter ingesluit het besluit dat daar nie iets onpluis is met Hans se wiskundige vermoë, wat vergelykbaar was met `n destydse veertienjarige s`n nie.

`n Sielkundige genaamd Oscar Pfungst het egter ander idees gehad en na `n stel toetse het hy bepaal dat Hans nie juis baie beter was in wiskunde as enige ander perd nie. Die ding is dat perde, nes ons, pakdiere is en dus `n vorm is van sosiale intelligensie het. Een van die onderdele van sosiale intelligensie is die vermoë om liggaamstaal te interpreteer en dit is presies wat Hans gedoen het. Hy sou aandagtig kyk na sy vraagsteller soos hy sy hoef gestamp het en sodra hy op die regte antwoord gekom het sou klein verskille in die vraagsteller se liggaamstaal opgemerk word en Hans sou op `n baie aweregse manier op die regte antwoord kom. Hans se akkuraatheid het dus dramaties afgeneem as die vraagsteller nie die antwoord geken het nie of as hy buite Hans se veld van sig was.

Von Osten wou nie die verduidliking glo nie en het tot Hans se dood Duitsland plat getoer. Hans lewe egter nog steeds vort asgevolg van `n denkfout wat na hom vernoem is. Die Clever Hans denkfout stel dat mense geneig is om intelligensie aan iets toe te skryf nie op grond van werklike intelligensie nie, maar omdat dit handelinge uitvoer wat intelligent voorkom. Dit is een van die gevalle where it walks like a duck it talks like a duck but then again it`s not a fucking duck. Hier kom die twee gedagtes nou bymekaar en los mekaar op. Ons is geneig om intelligensie of `n siel aan karre, visse, en lawa klippe toe te ken, want allerlei gegewens gebeur waarin hulle betrokke is wat dit laat blyk asof hulle wel planne in die mou voer. Dit vorm deel van ons hunkering na geloofwaardige stories soos ons probeer sin maak van gebeure, selfs al sluit dit die bonatuurlike in. Maar soos die prokureur in Lipstick Dipstick se: "Looks can be very deceiving." Mense gaan ongelukkig dood in karongelukke, veral as hulle op onveilige bane in motorwedrenne jaag. Murray se lot het dalk meer te doen met die feit dat hy graag goeters vat wat nie aan hom behoort nie en minder te doen met Pele. Trouringe mag soms terugkom. Veral as jy `n beroepsvisserman is, want in jou geval is daar baie visse in die see, maar ook net soveel visse in die see aangesien jy jaar in jaar uit met dieselfde aas op dieselfde plek visvang.

Hierdie los ons met twee maniere om na dieselfde werklikheid te kyk. Die een is die koue werklikheid waar alles verloop soos dit doen vir `n baie spesifieke en nougesette stel redes. Die ander is ietwat meer vermaaklik waar karre dalk meer wil hê as `n deluxe valet elke tweede Saterdag, waar Pele jou goed op jou moer gaan gee as jy haar goete steel en waar visse gaaf genoeg is om hul lewens op te offer sodat vroulief minder skietgoed kan hê tydens die volgende argument. Ek verkies die tweede opsie, want soos een van my vriende op die rookbankies in Huis Visser gestel het: "Gys, die lewe is maar vervelig. Dis jou verantwoordelikheid om dit interessant te maak."