Thursday, June 24, 2010

The Secret is Next Level

Die selfhulp rak by `n boekwinkel is nie `n plek waar ek my gereeld bevind nie. Ek glo vas dat die meeste van hierdie selfhulp mantras gebaseer is op een persoon se suksesverhaal. Die suksesverhaal is in elk geval na die tyd aanmekaar gevlans en bevat altyd dieselfde generiese raad soos moenie tou opgooi nie, glo in jouself en my persoonlike gunsteling wees positief. Dit is ook `n ongeskrewe ooreenkoms dat hierdie boeke van een of ander wedloop analogie moet gebruik of moet verwys na die stroomop stryd van die nederige forel of dalk iets meer funky soos `n feniks of `n eenhoring of `n griffin of Pegasus of dalk Pikachu. Voor jy my nou afskryf as `n siniese ou donder laat ek verduidelik waarom ek so `n renons in hierdie boeke het.
      Eerstens, gee dit geensins erkenning aan die redelike groot rol wat geluk speel in sukses nie. Malcolm Gladwell se boek Outliers verduidelik in detail dat die jaar waarin jy gebore word van onmenslike belang is vir sukses. Een van die beste voorbeelde gaan oor rekenaarprogrameerders. Daar is meer as een ou wat oor dieselfde vernuf en vasberadenheid as Bill Gates beskik. Die verskil is egter dat Gates en ander sagteware miljardêrs se verjaarsdae in hulle guns getel het. As jy voor `n seker jaar in die 1950`s gebore is en geprogrameer het dan sou jy vir IBM gewerk het. In daai tydstip het die bestuur van IBM geglo dat daar slegs `n mark vir drie of vier persoonlike rekenaars sou wees en jy sou ponskaarte in `n gebou van `n rekenaar ingedruk het sodat jy `n laptop kon bekostig. As jy na die datum gebore was sou jy natuurlik die ontploffing in persoonlike rekenaar gebruik skraps gemis het en `n gewone nine to fiver by Microsoft of Sun Microsystems gewees het. Tweedens, is daar die hele idee van negative evidence wat Hassim Taleb in The Black Swan aan ons voorstel. Taleb voer met goeie reg aan dat sekere verhale onsydig oorgedra word, want in die afloop van die verhaal word sekere van die deelnemers uit die spel verwyder. Op Stellenbosch se strate slaap daar gewese besigheidsmanne wat ook eens soos die spreekwoordelike forel in `n baie vasberade wyse teen die stroom geswem het. Die enigste verskil is egter as hulle `n boek skryf oor wat met hulle gebeur het, sal hulle heel waarskynlik self die publikasie moet bevonds. Dis soos my pa altyd sê: Dooie duikers deel nie (hulle verhale nie).
       Ten spyte van my hekel aan die bogenoemde selfhulpliteratuur is daar wel een boek wat ek goedkeur, maar vir ander redes as wat jy mag dink. Die boek/video is The Secret. Om julle geheue te verfris- die boek voer aan dat jy enige iets wat jy begeer kan kry deur om te glo dat jy dit kan kry. As jy dus meer geld wil besit begin dink aan hoe dit moet voel om al klaar die moneydollars te besit. Fokken awesome en weet jy wat? Dit werk, nie omdat die heelal ewe skielik sy filantropiese sy ontdek het nie, maar omdat die besit van meer geld nou `n groter prioritiet is en jou oë letterlik groter oop is vir geldmaakgeleenthede. Dit tap as te ware by jou onderbewussyn in. `n Goeie verduideliking hiervan kan in Karl Weick se boek Sensemaking in Organizations verkry word. Hy voer aan dat selfs een situasie `n onwerklike hoeveelheid sensoriese informasie bied en ons kan slegs `n sekere hoeveelheid informasie verwerk op `n spesifieke tydstip. Dit beteken dus dat ons (onder)bewustelik moet kies waarop ons ons aandag wil vestig. Ter illustrasie - was jy net voor jy hierdie sin gelees het bewus of jou rekenaar se waaier aan was of nie of selfs in watter land jy is (sorry Willas:)? Natuurlik was jy nie, jy was besig om jou te verlustig aan my blogpost en nou wonder jy wie Willas is. Jou aandag was eenvoudig nie by die bogenoemde entiteite nie. Om dit saam te vat - ons is `n produk van waarop ons ons beperkte aandag spandeer so moenie nou gaan porn kyk nie. Dit is waarom ek volhartig The Secret vir almal voorskryf, maar aangesien jy nou weet hoe dit werk spandeer liewer jou nuutgevonde kontant op Outliers of Black Swan.
       
 As jy moet weet Willas is `n visboer in Nieu-Seeland. `n Interessante brokkie World Cup trivia is dat die bynaam vir Black Label quarts – Zamalek - kom van die bynaam vir die Egiptiese sokkerspan. Die verbindtenis is dat die Egiptiese landsvlag dieselfde kleure as `n Black Label wapen is.

Thursday, June 3, 2010

Nixon Cronje Johnson en waarom werklik genot in die uitvoering is

`n Goeie vriend van my hou daarvan om te vra hoeveel maniere daar is om uit te gaan in krieket. Gewoonlik kom die eerste vier of vyf maniere vinnig na die mense. Ander maniere soos time out  en handling the ball  vat egter `n bietjie langer of ontwyk mense totaal en al. Hoekom selfs ernstige krieketaanhangers nie dadelik dit kan oproep nie is tweevoudig. Eerstens, gebeur dit nie juis baie nie – Darryl Cullinan het laas in sy geskiedkundige beurt teen Nieu-Seeland beëindig deur die bal te hanteer.  Tweedens, bied dit nie soveel satisfaksie aan die kykers of selfs die opponerende span as iemand op so `n manier uitgaan nie maak dus nie `n blywende indruk nie.
    Selfs binne die verskillende maniere van uitgaan is daar maniere om die opponent uit te kry wat net lei na meer genot vir kyker en bouler. As jy mooi kyk na die krieket sal jy sien dat sommige boulers lekker lag met hulle kaptein as `n kolwer vir `n welgestelde strik geval het. Om `n paaltjie te vat van `n wêreldklas kolwer in vergelyking met `n tail ender is ook nie dieselfde ding nie. Die probleem is egter dat dit presies dieselfde lyk op `n bouler se statistiek. Of jy nou iemand soos Jacques Kallis vyf keer uitboul lyk dit statisties gewys presies dieselfde as jy `n heeltemalle palooka vyf keer uitboul.
     Dit bring my by die probleem dat uitslae meestal as vergelykbaar gesien word sonder dat daar enigsins in ag geneem is hoe dit bereik is. Daar is net eenvoudig nie `n respek vir due process nie. Hierdie mate van disrespek van hoe dinge verondstel is om te verloop kom van die aanhanger sowel as die presteerder. Die aanhanger het lof vir die presteerder ongeag hoe hy daar gekom het. Hierdie dime-a-dozen lof en navolging lei natuurlik na die probleem dat mense nie dinge doen nie vir die inherente genot om dit ordentlik te doen nie, maar liewer vir die lof en bates wat saam met dit gaan.
     Noem my `n naïewe puris, maar hierdie tema herhaal homself keer op keer. Gewoonlik spoel dit uit in een of ander debakel. Nixon en Watergate is `n goeie voorbeeld. Dick Nixon het besluit om sy politiese opponente uit te oorlê, met die oog daarop om herverkies te word, deurmiddel van sy mag te misbruik en op verskeie mense af te luister en joernaliste se belastingrekords na te gaan. Dis nou terwyl hy `n land moes lei. Hansie Cronje het ook tred verloor met wat hy eintlik veronderstel was om te doen (lees - slogsweeps) en om informasie aan bookies  te verskaf om geld te maak. In Afrika politiek kry ons dit ook soms so dat leiers besluit om selfs die presidensiële facade te los en liewer al hulle energie op die spoils of government te spandeer. Daai Kanadese naelloper, Ben Johson, met die geel oë dien ook as `n warning from history.
     My punt is dus dat daar baie gereeld en baie maklik tred verloor word met dit wat waarmee jy eintlik besig is en mense geneig is om hulle op te hou met allerlei sideshows. Dit kan met enige iemand gebeur – geld, vinnige karre, en hot chicks kan egter jou nie net jou aansien laat verloor nie, maar veel belangriker jou laat vergeet waarom jy doen wat jy doen – omdat jy dit geniet en jy is goed daarin. Ek sluit af met die relevante woorde van die Amerikaanse sportskrywer Grantland Rice: When the great scorer comes to write against your name he marks not that you won or lost but hoe you played the game.       

Gys word altyd verras deur die nuwe hoeveelheid crazy wat Stellenbosch clublife kan generate. Dan moet hy ook begin Duitse politiek begin opswot aangesien `n opinie sekerlik verwag gaan word in Berlyn.