Friday, February 26, 2010

Merkwaardige Links

Ek het vandag op twee merkwaardige links afgekom. Die eerste was `n webtuiste wat beweer dat die music video van Lady Gaga se “Bad Romance” neerkom op `n versameling okulte rituele. Hierdie ou het sekerlik ure bestee aan hierdie sogenaamde analise waar hy letterlik alles van songode tot bokkoppe agter die bos uitskop.

Dit is nou die einste manier van dink wat geopenbaar was toe daar mense by my huis in Uniondale opgedaag het en aangedring het dat my Ninja Turtles en my susters se Care Bears in die vuur gegooi moet word aangesien hierdie gemaak is om met jou kinderkop te gool. Hierdie is ook dieselfde stel mense wat jou aangegeluur het as jy daai Stüssy hemp met die ag-bal gedra het. Dieselfde groep mense het ook tot Liewe Heksie se ondergang gelei en gekla oor Harry Potter.

Selfs al is dit hoe diabolies wie is die persone wat juis die ergste eur sulke sogenaamde onheilig simboliek vasgevang word? Dit is juis dié rusiestokers en klagatte. Dit laat my baie dink aan die Dominee in André. P. Brink se Oom Kooitjie Emmer wat `n groot versameling verbode literatuur in sy lessenaar gehad het. Dit is natuurlik nie vir sy eie gebruik nie, maar slegs dat hy die uitdagings wat die deursnee gemeentelid in die gesig staar kan gade slaan en bewus wees daarvan.

Merkwaardige Links

Die tweede link praat van `n nuwe trend wat glo begin vlam vat in Amerika. Dit word vajazzling genoem en is na my opinie heeltemal verregaande, maar soos met die meeste Suid-Afrikaanse musiek kan ek wel insien dat daar mense is wat daarvan gaan hou. Vajazzling behels die plak van juwele of kristalle op die - hoe kan ek nou stel – vroulike skaamdele. Die rede omdat dit mag werk is dat dit twee goeters gelyk doen. Dit kos geld en dit vestig nog meer aandag op die vajizzle. Dit sal dus waardeer word deur die tipe meisie wat Terrace toe gaan, met `n mini skirt wat so eina is dat jy al lankal haar naam en van ken nog voor julle ontmoet het, en dan vieruur die oggend voor my venster op haar boyfriend skreeu omdat hy te arm is om vir haar `n cheeseburger te koop.

Monday, February 15, 2010

Busry 101

Ek het vandag twee ure in die kar verkwansel. Verkwansel is die regte woord aangesien ek die tyd ingeboet het om `n luilekker naweek op die Weskus te verruil vir die rondslomp van die werksweek. Om in die kar te klim met `n eindbestemming in gedagte is egter nie altyd so `n bedroewige storie nie. Die wat die reis al na Mosambiek meegemaak het sal byvoorbeeld weet dat die twee dae se reis `n absolute winskoop is. Dieselfde geld vir die pad na die Oranjerivier waar alledaagse bedroewighede verruil word vir `n situasie waar die enigste probleem die temperatuur van jou bier is. Reis se nutswaarde is dus meer `n kwessie van waarheen jy gaan en waarvoor as enige iets anders.

Dit gesê is dit ook so dat daar sekere maniere is om `n reis te vergemaklik ongeag van waarheen `n mens mag gaan. Vir die reisiger is daar geen beter leerskool as busry nie. Busvaart is stadiger as enige iets anders en die hoeveelheid mens per vierkante meter dien as goeie herinnering dat enige iets weelderigs eintlik `n weergawe is van persoonlike spasie. Ongeag van enige herkoms of wie jy is, busry is en bly die groot leveler – almal lewe ewe ongemaklik. Vir die met genoeg ervaring of wie die artikel lees is daar egter maniere na busry Nirvana of ten minste `n paar plekke hoër in Maslow se hïerargie op te eindig.
By voorbaat wil ek stel dat hierdie handige reisraad nie `n aanduiding is van my karakter nie. Dit is survival of the fittest. Plein en simpel.

Die eerste probleem wat jy het is om jou lift ordentlik te groet maar ook `n goeie sitplek te bekom. Hierdie is moeilik, maar kan gedoen word deurmiddel van jou tydskrifte neer te sit op jou sitplek of op twee sitplekke langs mekaar as dit moontlik is. Dit maak `n statement  wat vergelykbaar is met `n  hond wat teen `n boom pie. Dit los jou met genoeg tyd om jou buddy wat jou afgelaai het te groet terwyl die ander se bagasie gelaai word.
As ek jy enige iets uit hierdie artikel neem onthou die volgende: Die keuse van sitplek is van kardinale belang. Soos `n reisgenoot van my stel: “Om agter te sit was cool op skool, maar nie as jy langafstand travel nie. Dis time consuming om in en uit te klim en agter stink die meeste en kakste view.” Om voor te gaan sit is ook die ultimate rookie error, as dit dag is kan jy alles sien, maar as dit donker is en die ander padverbruikers sit hulle ligte aan dan kan jy slaap op jou maag skryf. Dit is ook so dat sommige mense meer spasie op vat as ander, neem dit in ag.

So gepraat van spasie daar is sekere maniere om dit wat jou toekom terug te kry of te behou. Ek verwys na mede-passasiers wat jou spasie wil steel. Dit is dus belangrik om so vinnig as moontlik jou voet neer te sit. Sodra die persoon langs jou oorhang in jou spasie en al hoe meer teen jou begin lê wys vir hom dat jy dit wel agterkom met `n taktiese jab met die elmboog in die kortrib. Maak seker dat dit gepaard gaan met iets in die pad soos `n vinnige stop of ongelyke pad sodat dit nie direk op jou gepen kan word nie. Jy sal sien dat die spasie weereens joune is en dat die strategie se effek meer blywend is as om mooi te vra.
Daai kopverkoue-gevoel wat jy kry na `n lang busrit is te wyte aan die lugverkoeling. Wees slim en koop `n bottel Sterimar neussproei. `n Goedkoper uitweg is om saline solution aan te skaf en dit te gebruik. Werk soos `n bom.


`n IPod is uit die aard van die saak ook baie belangrik. Om sonder dit `n busrit aan te pak is omtrent so gevaarlik soos om te soldeer sonder daai maskers. Vra vir my. Ek het lank gewonder hoekom ek nogal goed is in Noot Vir Noot sonder om eintlik daai tipe musiek te luister. Na baie introspeksie het ek slegs Interkaap in samewerking met Kfm om daarvoor te blameer.  

Hierdie lys is saamgestel in “trotse samewerking” met Albert Retief. Van publieke vervoer kan jy hom niks vertel nie aangesien die man Suidelike Afrika te trok, trein, bus en rikshaw aangepak het. Kyk gerus sy blog uit by albertretief.blogspot.com   


Enige kommentaar sal waardeer word.

Thursday, February 11, 2010

Glanspersoonlikhede en Hoekom Ons Daarvan Hou om Hulle te Sien Val

Enige Afrikaans-sprekende persoon, Blou Bul ondersteuner of de not, sou tien teen een `n opinie gehad het oor die identiteit van die cat-snuifende hoerjaer tydens die onlangse seksvideo-skandaal. Selfs al stel jy nie belang in golf nie sou jy ten minste al gegrynslag het oor een of ander dubbelsinnige grappie oor Tiger Woods se buitensporige buite-egtelike aktiwiteite. Selfs al blaai jy aspris die Mense-en-hul-Dinge afdeling van die Huisgenoot mis tydens `n tydelike bestyging van die troon sal jy weet wie Paris Hilton is en dat infrarooi snaaks genoeg gebruik word om groen videos mee te vervaardig.


Die punt wat ek probeer maak is dat ons almal weet wie die bogenoemde sterre is en wat hulle aangejaag het. Die vraag wat ek egter vra is hoekom is dit so en waarom is glanspersoonlikhede se doene en late buite die sportveld of van die verhoog so belangrik? Dit is mos nie asof dit ons direk beïnvloed nie.

Hierdie is natuurlik `n wêreldwye fenomeen. Hello en National Enquirer is in England en Amerika net so gewild soos ons geliefde Huisgenoot. Heat Magazine is ook `n Suid-Afrikaanse gunsteling en word in verskeie aangepaste weergawes op `n internasionale basis verkoop. Aangesien die oormatige navolg van glanspersoonlikhede nie net `n Suid-Afrikaanse probleem is nie kan ons met sekerheid vas stel dat dit nie apartheid se skuld is nie.

Na wat ek kan aflei uit gesprekke met mense met `n aktiewe belangstelling in glanspersoonlikhede gaan dit oor die feilbaarheid wat hierdie mense ten toon stel. Paris se video-ekskepades kom dus met die ingeboude boodskap dat alhoewel sy meer geld gaan erf as wat baie lande se bruto binnelandse produk is kan sy ook soms haar videos versit. Tiger se huweliksprobleme toon dat ten spyte van bomenslike talent die negetiende gaatjie nie al versoeking is nie. Joost se petalje wys ons dat ten spyte van uitstaande diens aan Suid-Afrikaanse rugby `n man soms die nommer-een reel vergeet en jou sokkies aanhou. Hierdie is dus verskillende weergawes van dieselfde boodskap - dat mense feilbaar kan wees.

Hoeveel keer wil jy egter hierdie self-evident truth hoor. Een keer is mos meer as genoeg en twee keer behoort die boodskap klinklaar deur te kry. Die bogenoemde verduideliking is dus nie voldoende nie. Ek voer aan dat die rede vir die smagting na glanspersoon-skandaal meer breedvoerig verduidelik kan word deur die idee van schadenfreude. Schadenfreude is die Duitse benaming vir die sielkundige verskynsel waar ons lag vir Sport Bloopers of die meeste van die goed op America`s Funniest Home Videos. Dit is daai gevoel van verligting wat `n mense kry as ander so bietjie op hulle moer kry. Jy mag aanvoer dat dit nie met jou gebeur nie, maar vir glanspersoon-skandaal junkies is dit myns insiens die geval. Waar celebrities betrokke is, is dit egter so dat die hit soveel harder en langer is aangesien hoër bome harder val.

Gys Hough voel dat die Metrorail tussen Kaapstad en Stellenbosch te vol was vandag en dat R30-toegang by Springboks heeltemal insane is.