Thursday, June 24, 2010

The Secret is Next Level

Die selfhulp rak by `n boekwinkel is nie `n plek waar ek my gereeld bevind nie. Ek glo vas dat die meeste van hierdie selfhulp mantras gebaseer is op een persoon se suksesverhaal. Die suksesverhaal is in elk geval na die tyd aanmekaar gevlans en bevat altyd dieselfde generiese raad soos moenie tou opgooi nie, glo in jouself en my persoonlike gunsteling wees positief. Dit is ook `n ongeskrewe ooreenkoms dat hierdie boeke van een of ander wedloop analogie moet gebruik of moet verwys na die stroomop stryd van die nederige forel of dalk iets meer funky soos `n feniks of `n eenhoring of `n griffin of Pegasus of dalk Pikachu. Voor jy my nou afskryf as `n siniese ou donder laat ek verduidelik waarom ek so `n renons in hierdie boeke het.
      Eerstens, gee dit geensins erkenning aan die redelike groot rol wat geluk speel in sukses nie. Malcolm Gladwell se boek Outliers verduidelik in detail dat die jaar waarin jy gebore word van onmenslike belang is vir sukses. Een van die beste voorbeelde gaan oor rekenaarprogrameerders. Daar is meer as een ou wat oor dieselfde vernuf en vasberadenheid as Bill Gates beskik. Die verskil is egter dat Gates en ander sagteware miljardêrs se verjaarsdae in hulle guns getel het. As jy voor `n seker jaar in die 1950`s gebore is en geprogrameer het dan sou jy vir IBM gewerk het. In daai tydstip het die bestuur van IBM geglo dat daar slegs `n mark vir drie of vier persoonlike rekenaars sou wees en jy sou ponskaarte in `n gebou van `n rekenaar ingedruk het sodat jy `n laptop kon bekostig. As jy na die datum gebore was sou jy natuurlik die ontploffing in persoonlike rekenaar gebruik skraps gemis het en `n gewone nine to fiver by Microsoft of Sun Microsystems gewees het. Tweedens, is daar die hele idee van negative evidence wat Hassim Taleb in The Black Swan aan ons voorstel. Taleb voer met goeie reg aan dat sekere verhale onsydig oorgedra word, want in die afloop van die verhaal word sekere van die deelnemers uit die spel verwyder. Op Stellenbosch se strate slaap daar gewese besigheidsmanne wat ook eens soos die spreekwoordelike forel in `n baie vasberade wyse teen die stroom geswem het. Die enigste verskil is egter as hulle `n boek skryf oor wat met hulle gebeur het, sal hulle heel waarskynlik self die publikasie moet bevonds. Dis soos my pa altyd sê: Dooie duikers deel nie (hulle verhale nie).
       Ten spyte van my hekel aan die bogenoemde selfhulpliteratuur is daar wel een boek wat ek goedkeur, maar vir ander redes as wat jy mag dink. Die boek/video is The Secret. Om julle geheue te verfris- die boek voer aan dat jy enige iets wat jy begeer kan kry deur om te glo dat jy dit kan kry. As jy dus meer geld wil besit begin dink aan hoe dit moet voel om al klaar die moneydollars te besit. Fokken awesome en weet jy wat? Dit werk, nie omdat die heelal ewe skielik sy filantropiese sy ontdek het nie, maar omdat die besit van meer geld nou `n groter prioritiet is en jou oë letterlik groter oop is vir geldmaakgeleenthede. Dit tap as te ware by jou onderbewussyn in. `n Goeie verduideliking hiervan kan in Karl Weick se boek Sensemaking in Organizations verkry word. Hy voer aan dat selfs een situasie `n onwerklike hoeveelheid sensoriese informasie bied en ons kan slegs `n sekere hoeveelheid informasie verwerk op `n spesifieke tydstip. Dit beteken dus dat ons (onder)bewustelik moet kies waarop ons ons aandag wil vestig. Ter illustrasie - was jy net voor jy hierdie sin gelees het bewus of jou rekenaar se waaier aan was of nie of selfs in watter land jy is (sorry Willas:)? Natuurlik was jy nie, jy was besig om jou te verlustig aan my blogpost en nou wonder jy wie Willas is. Jou aandag was eenvoudig nie by die bogenoemde entiteite nie. Om dit saam te vat - ons is `n produk van waarop ons ons beperkte aandag spandeer so moenie nou gaan porn kyk nie. Dit is waarom ek volhartig The Secret vir almal voorskryf, maar aangesien jy nou weet hoe dit werk spandeer liewer jou nuutgevonde kontant op Outliers of Black Swan.
       
 As jy moet weet Willas is `n visboer in Nieu-Seeland. `n Interessante brokkie World Cup trivia is dat die bynaam vir Black Label quarts – Zamalek - kom van die bynaam vir die Egiptiese sokkerspan. Die verbindtenis is dat die Egiptiese landsvlag dieselfde kleure as `n Black Label wapen is.

No comments:

Post a Comment