Monday, March 1, 2010

Wat Lewensredding My Geleer Het

As jy aan die einde van die jaar `n paar vinnige berekeninge doen en agterkom dat jy nie genoeg geld tot jou beskikking het vir `n luilekker Desember-vakansie nie dan moet jy vrede maak met die feit dat jy sal moet werk. As jy nie bereid is om kelner te wees nie dan is daar wel ander maniere om the man tevrede te hou sonder om jou siel in te ruil. Ek het al by `n backpackers in Hogsback gaan werk, maar vir `n jong  man wat hou van die see is lewensredding by verre die beste keuse.

Lewensredding bied jou die son, see en daar is altyd een of ander avontuur of snaakse karakter wat deur die dag opduik. Die seksbehepte onderwyser, die dronk wittebroodgangers of die heks wat spells op jou plaas in Bongo`s Pub is maar net `n paar van die mense wat oor jou pad kom. Natuurlik gaan dit met groot verantwoordelikheid gepaard en om 20,000 dronk besoekers op Wilderness se strand te hanteer verg hare op jou tande. Ek sal egter nie daai samesyn en strontpraat met die crew vir enige iets verruil nie.

Ek het ook al baie van die mees interessante episodes vergeet of baie van hulle het ook al vermeng geraak met mekaar. Een storie bly my altyd by omdat daar `n les betrokke was. Dit was my beurt om by die waterlyn te staan en seker te maak dat alles glad verloop. Daar het `n man verbygehardloop gekom met sulke tronk chappies op sy bors en rug. Hy het in die water geduik en begin baljaar. Wilderness is egter `n sandstrand wat beteken dat jy die een oomblik nog gemaklik kan staan en dan ewe skielik sak jou kop onder die water. Dit is nie te gevaarlik as jy kan swem nie, maar ons man wat van Vasco afkom, kon egter nie. Hy het soos `n besetene te kere gegaan en my op `n oomblik laat dink dat hy die see hard wil karring sodat hy kan uitstap soos daai muis wat in die vat melk geval het.

Hy was egter nooit in groot gevaar nie. Ek het letterlik na hom gestap die boei gegee en vir hom gevra om te staan. Teen daai tyd het die stroom hom geneem na `n deel waar die water slegs tot by jou bors kom. Hy het hom gered deur te staan, maar hy het voorheen verkies om te spartel. Dit sou sy tot sy dood gelei het en hierin is die les opgevang. Ons voel somtyds ons is in die moeilikheid of in `n nuwe situasie en dit verg iets meer van ons. Somtyds is dit egter nie so dat drastic times vir drastic measures call nie. Die meeste van die tyd verg dit net nugter nabetraging van wat die situasie behels en wat jy tot jou beskikking het. Wat gewoonlik meer as genoeg is om aan die ander kant uit te kom.

Gys wonder hoe `n mens die Sondag Blues kan oorwin. 

No comments:

Post a Comment